Doel van die kursus:
Die behoefte aan pastorale sorg groei eksponensieel. Hierdie kursus is ontwerp om studente praktiese blootstelling aan die praktyk van pastorale berading te gee. Studente word toegerus om hoop en genesing in 'n wye verskeidenheid van situasies te bring - situasies wat eie is aan die Suid- en Suider-Afrikaanse samelewing.
Uitkomste:
* Geïntegreerde kennis van narratiewe pastorale terapie
* Vermoë om pastoraat (teologie) en terapeutiese vaardighede sinvol en kreatief te integreer en in praktyk te gebruik
* Moontlikheid te skep vir studente om in verskillende spesialisasievelde pastoraal terapeuties op te tree
* ’n pastoraal terapeutiese bydrae te lewer tot die heelheid en heelwording van gemeenskappe
Wie mag inskryf?
Die akademiese voorvereiste vir die kursus is ’n matrieksertifikaat. Enige Christen wat met entoesiasme en deursettingsvermoë die hele kursus wil deurloop en wat ’n passie vir mense het, behoort vir hierdie kursus in te skryf. Jy moet bereid wees om te groei en van geykte idees af te sien. Jy sal nooit weer presies dieselfde siening oor menswees hê nie en daarom moet jy bereid wees om te verander – ook in jou siening van geloof. Mense wat hierin belangstel, hou daarvan om van nuwe idees oor menswees te lees – kortom, jy is onder andere lief vir studie.
Nota: Studente wat kwalifiseer om vir 'n Meestersgraad by die Fakulteit Teologie, Universiteit van Pretoria in te skryf, bied hierdie kursus as deel van ’n gestruktureerde Meestersgraad in Praktiese Teologie aan. Sodanige studente meld by die Departement Praktiese Teologie (Prof Julian Müller) aan vir ‘n toelatingseksamen en registreer, afhangende van die uitkoms, vir die Meestersgraad by die Universiteit van Pretoria.
Struktuur en duur van die kursus:
Die kursus strek oor twee jaar. Gedurende hierdie tydperk sal studente vir 36 weke per jaar 3 uur per week by die Coram Deo- Pastorale Sentrum besprekingsessies bywoon. Vanaf die tweede semester van die kursus sal een uur van hierdie kontaksessies bestaan uit praktiese beradingsessies. Daar sal ook van studente verwag word om drie essays in te handig en ’n joernaal van praktiese ervaring by te hou vir supervisiedoeleindes. Daar sal van studente wat vir die meestersgraad inskryf, verwag word om vir twee semesters (semester 2 en 3) 3-uur- praktiese sessies by die Coram Deo Pastorale Sentrum by te woon.
Datums:
7 Februarie – November 2012: een maal per week (skoolvakansies uitgesluit)
Februarie – November 2013: een maal per week (skoolvakansies uitgesluit)
Prys:
R10 000 vir 2 jaar (R5000 per jaar)
(50 % betaalbaar met registrasie – R2500)(Meesterstudente registreer en betaal vir die kursus by die Universiteit Pretoria)
Plek:Coram Deo, Waterkloof Glen, Pretoria
Sperdatum vir registrasie: 25 Januarie 2012.
Registrasie adres: Posbus 32002, Glenstantia, 0010;
Coram Deo Pastorale Sentrum, H/V Lea en Hugo Straat, Waterkloof Glen.
Tel 012-998 8323, Epos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Minimum aantal deelnemers per kursus: 25
KURSUSINHOUD
Module 1: Die narratiewe paradigma
* Om tot verhaal te kom: inleiding tot ’n narratiewe epistemologie, sosiale konstruksionisme en postmodernisme
* Diskoerse en dekonstruksie
* Die probleem is die probleem! Eksternalisering in die pastorale gesprek
* Unieke uitkomste en die ontwikkeling van die alternatiewe lewensverhaal
* Reflekterende groepe en die etiese praktyk van eksterne getuies
* Dit wat nie gesê word nie, maar tog bepalend tot die lewensverhaal is
* Mag as konstruktiewe betekenisagent
Werksopdrag 1: Bespreek magsdiskoerse in pastorale berading na aanleiding van ‘n gevallestudie
Module 2: Pastorale Teologie
* Pastorale berading: ’n oorsig oor pastorale praktyk
* Die spirituele in pastorale gesprekke
* Pastorale versorging binne die praktiese teologie-diskoers
* ’n Inleiding tot Post-fundamentele teologie
* Teologie wat onderdruk: magsdiskoerse in die teologieverhaal
Werksopdrag 2: My teologieverhaal: ’n persoonlike reflektering oor pastoraat en teologie van 'n gevallestudie (10-15 bladsye).
Module 3: ’n Narratiewe benadering tot huweliks- en verhoudingsberading
* Narratiewe perspektief op verhoudinge
* Huweliksdiskoerse
* Egskeiding en heelword
* Geslags- en seksuele diskoerse
* My verhoudingsverhaal: diskoerse, die “absent, but implicit” en her-innering
Werksopdrag 3: Ontwikkel ’n narratiewe model vir ’n faset van verhoudingsterapie aan die hand van ’n gevallestudie (10-15 bladsye)
Module 4: Narratiewe benadering tot kinderterapie
* ’n Inleiding tot kinderterapie
* Gebruik van kreatiewe media soos klei, verf en lap in kinderterapie
Werksopdrag 4: ’n Aanbieding van ’n kinderterapieverhaal met spesifieke verwysing na die gebruik van artistieke media
Module 5: Berading in gevalle van seksuele molestering – ’n narratiewe benadering
* Inleiding tot die berading in gevalle waar seksuele en ander molestering probleemversadigde indentiteitsverhale skep.
Werksopdrag 5: Toon aan hoe die narratiewe paradigma in die geval van seksuele molestering die ontwikkeling van ’n alternatiewe verhaal kan fasiliteer.
Module 6: Rousmart- en Traumaberading – ’n Narratiewe Benadering
* Oorsig oor die ontwikkeling van ’n narratiewe benadering tot trauma- en rousmartberading aan die hand van sekere gedagtes van Michael White.
Werksopdrag 6: Ontwikkel u eie benadering tot trauma- of rousmartberading en toon aan hoe die stem van narratief en sosiale konstruksionisme daarin tereg kom.
Module 7: Terapie in gevalle van afhanklikheid, met spesiale verwysing na substans- en alkoholafhanklikheid – ’n narratiewe perspektief
* ’n Bespreking van afhanklikheid as probleemverhaal
* Ontwikkeling van ’n terapeutiese benadering om hierdie probleemverhaal te dekonstrueer
* Narratiewe benadering tot afhanklkheiddiskoerse met spesiale verwysing na liminaliteit.
Werksopdrag 7: Bespreek ’n afhanklikheidsverhaal en verwys na die diskoerse wat hierin verweef is. Ontwikkel vervolgens u eie terapeutiese benadering en lig dit toe aan die hand van ’n gevallestudie.
Module 8: Groepwerk – terapie en veranderingswerk in gemeenskappe en groepe
* Bespreking van hoe die narratiewe paradigma groepwerk en gemeenskapsdialoog kan fasiliteer.
Werksopdrag 8: Beskryf ’n groepsprojek waar u die narratiewe benadering toegepas het aan die hand van die Coram Deo-navorsingsriglyne.
Kursusleier: Dr Francois Wessels.
Ander dosente: Dr André Botha, Me Marietjie van Loggerenberg, Me Erika Marais, Dr Chené Swart, Me Rietjie van Blerk, Me Essie Raath.


